bitterbek se bietsblok











{September 28, 2007}  

Gemeet aan die tyd wat verstrek het van my laaste post, kan die leser maklik die afleiding maak dat ek nie veel gehad het om oor te biets nie. Verkeerd. Ek het blerrie baie gehad – maar ek het besluit dat ek miskien myself vir ‘n slag bietjie moet inhou en chill, jy weet – die kremetart uit die alie trek. Maar dan gebeur dae soos gister. Kyk, dis sulke dae dat ek doos se kop met sy nuwe, duur Wusthof kookmes, van sy lyf af wil sny. Met ‘n smile op my gesig.

Ja, doos kook nou – nogal lekker moet ek sê. Maar vandat hy begin kook het, kan ek sien hy eet maar langtand aan myne – so asof my jarelange afsloof voor die kospotte, al die kennis wat ek bymekaargemaak het, dinge wat hy nog moet leer en ek al vergeet het, nou pastiche is. Skeeus me for you! Ek wil sien as hy al vir 17 jaar aanmekaar dag na dag iets moet uitdink om te maak, pick ‘n pay toe moet gaan om die regte bestanddele te soek, in lang rye moet staan en daarna die stoof aandurf, of hy dan nog so entoesiasties sal wees!

Maar dis ok – ek sal die verwerping vat – hoe goorder my kos smaak – hoe meer kook hy -pas my! He-he!

O ja, gister…..Kyk, doos kry elke maand pms. Gewoonlik hier rondom volmaan se tyd. Dan moet jy op blerrie eiers loop, want wat die vorige dag vir hom snaaks was, maak hom vandag de herrie in. En dan is hy ekstra puntenerig oor als en krap aan almal se gatte. Hy is net pleinweg totaal en al irrasioneel en jy kan niks daaraan doen nie – dié dat ek die mes met begin nadertrek het. Ek wonder hoe sal hy vir aandete smaak?



et cetera