Ek is stil, want dit gaan goed. Nie veel om oor te biets nie. O, ja, behalwe die motorryers in die Kaap.
Ek wonder hoeveel het lisensies – nee – leerlinglisensies? Want 90% weet nie dat ‘n mens moet aandui as jy van plan is om jou voertuig van rigting te laat verander nie. Hulle laat jou staan en wag soos ‘n parra, terwyl hulle met ‘n spoed van doer ver af aankom, net om kort voor jou, ewe doodluiters, met ‘n dead pan gesig te draai. Geen flikkerlig.
Dan weet helfte ook nie dat die wit lyn in die middel van die pad, verkeer in teenoorgestelde rigtings uitmekaar hou nie. Dit is vir diesulkes glad nie die teken om aan jou eie kant te bly nie. Nee – die streep is om vir jou te wys waar jou motor presies in twee helftes verdeel kan word. Veral as daar ander motors van voor af aankom. Hulle kan nou weer die middel van hulle karre met die geelstreep aan die kant bepaal. So is daar mos dan plek vir drie rye karre!
