bitterbek se bietsblok











{Augustus 19, 2007}   Rekenaars en goed

Doos moes ‘n nuwe computer kry. Kom, gryp jou baadjie en soek skuiling agter die naaste bos en bring net asseblief ‘n borrel wyn saam! In al my jare saam die fenomeen, kon hy nog nooit die ding op eerste intrapslag aan die werk kry nie. Nee, dit is ‘n gesukkel van epidermiese proporsies. Wat bedoel was om ‘n verligting te wees, verander opeens in ‘n magtige struikelblok wat my ernstig laat dink oor ‘n lesbiese verhouding.

Want sien, as doos sukkel, dan raak hy uiters gefrustreerd en ons almal loop deur. Veral as jy nou ook rekenaar verwante werk moet doen. En jy is nie rekenaarkundig nie. En hy rammel in tien sekondes af wat jy moet doen met ‘n program wat jy nog nooit van tevore in jou lewe gesien het nie. Dan loop jy deur. Want jy is mos dom.

Maar dis nie die ergste nie. Die f++++n duur, nuwe rekenaar word gestamp en geklap en jy sien al hoe jy die geld baie beter kon spandeer op ‘n nuwe wardrobe!

Jy gooi maar nog ‘n glas en intussen word jou dogtertjie mal in haar kamer. Speel sy is een of ander spy en maak die ondaardste geluide en dit net terwyl jy probeer om te konsentreer om die vrede te handhaaf. Doef! Doef! Whaaaa! Heeee!

Ek weet nie wat sukkel hy so nie. Vat net die bleddie ding terug na die mense wat hom aanmekaargesit het en sê hulle moet sien kom klaar. Dan gaan jy en gaan sit rustig in ‘n restaurant en eet en drink lekker. Maar nee…… hoekom dink jy maak net een sperm dit tot by die eiersel? Want al die ander, tipies man, is te trots om vir aanwysings te vra. Kom ons f+k die ding heeltemal op en dan soek ons hulp!

Van die os op die jas. Het jy al gesien, op meeste prentjies van aliens het hulle net drie vingers. Die duim, voor- en middelvinger. Kyk hoe lyk jou hand as jy die muis vashou !

O donner, doos is besig om sy keyboard te vernietig – ek gaan gou nog bietjie wyn skink!



{Augustus 7, 2007}   Motorryers

Ek is stil, want dit gaan goed. Nie veel om oor te biets nie. O, ja, behalwe die motorryers in die Kaap.

Ek wonder hoeveel het lisensies – nee – leerlinglisensies? Want 90% weet nie dat ‘n mens moet aandui as jy van plan is om jou voertuig van rigting te laat verander nie. Hulle laat jou staan en wag soos ‘n parra, terwyl hulle met ‘n spoed van doer ver af aankom, net om kort voor jou, ewe doodluiters, met ‘n dead pan gesig te draai. Geen flikkerlig.

Dan weet helfte ook nie dat die wit lyn in die middel van die pad, verkeer in teenoorgestelde rigtings uitmekaar hou nie. Dit is vir diesulkes glad nie die teken om aan jou eie kant te bly nie. Nee – die streep is om vir jou te wys waar jou motor presies in twee helftes verdeel kan word. Veral as daar ander motors van voor af aankom. Hulle kan nou weer die middel van hulle karre met die geelstreep aan die kant bepaal. So is daar mos dan plek vir drie rye karre!



et cetera