Soms gaan dit so goed in jou huwelik. Als is hunkie dory en die tye van onmin is amper ondenkbaar. Maar tog – êrens in jou agterkop is daar ‘n stemmetjie wat sê: “Jy weet hierdie gaan nie lank hou nie, nè”. Jy maak of jy nie hoor nie. Geniet die oomblikke in totale ontkenning. En dan gebeur dit. Skielik. Sonder waarskuwing.
Iets kleins, iets simpels. Soos jy wat nie lus is vir seks as hy eerste ding in die oggend aan jou “aansitknoppies” kom draai nie. Dan staan jy gou op met die verskoning dat jy eers lus is vir koffie . Jy vat ekstra lank en gaan surf gou eers bietjie op die net en hoop hy kry die boodskap. Jy weet hoe hy gaan reaggeer as jy sê: “Nie nou nie” en jy hoop hierdie is meer subtiel.
Foutjie. Sy eer is gekrenk en jy sal dit ontgeld. Vir weke sê ons net die nodigste, bly uit mekaar se pad en kyk wie kan die hardegatste wees. En nou is die tye van vrede en vreugde ondenkbaar en die stemmetjie hoon kliphard: “Ek het jou mos gesê!”
Kan iemand dalk vir my sê hoe om vir ‘n man op die “regte”manier nee te sê? En kan ek ook net vir mans sê – veral die wat al lank getroud is en seks as vanselfsprekend aanvaar. Al is dit lekker as julle aan ons tieties vat – dis nie die knoppies wat ons breins aanswitch nie.
