bitterbek se bietsblok











Oukei – ek het my vorige post oor Afrikaanse musiek en Bok van Blerk en Juanita du Plessis en Gerrie Pretorius en Amor afgehaal, want al is ek ‘n bitch, pla my gewete my as ek persoonlik raak. Punt is – daar is goed wat nie te sleg is nie en dan is daar gemors – en daai gemors beslaan 80% van die mark. Dis net vir my snaaks dat daai 80% die topverkopers is……wag, laat ek ‘n sluk wyn vat….kospryse………….

Waar gaan alles heen, mense?  Ek het vandag weer net verstom gestaan toe ek die inhoud van my R700 se rekening op die kombuistafel uitpak. Sap, melk, botter, tamatiepasta, koffie, deodorant, sjower jel, swartsakke, goulash vleis en wilsdnek – (teen R20 ‘n pakkie), waarvan ek slegs twee gekoop het. ‘n Paar herbs. Wat wel duur was, was doos se wyne – R87,00 vir ‘n Raka Shiraz en R99,00 vir ‘n Saxenburg Shiraz – maar liewe genade – R700!!! Dis absurd!

Wat moet ons deesdae eet om ons begrotings te laat klop? Bully beef, tuna, maalvleis, chicken livers??? Eiers???? Asseblief. Ek soek hulp. Kan enige iemand wat met minder as ‘n duisend rand ‘n week vir kos en drinkgoed klaarkom en ten minste ordentlik eet, asseblief vir my hulle spyskaart gee? Ek kan nie meer nie, korporaal !



Soms gaan dit so goed in jou huwelik. Als is hunkie dory en die tye van onmin is amper ondenkbaar. Maar tog – êrens in jou agterkop is daar ‘n stemmetjie wat sê: “Jy weet hierdie gaan nie lank hou nie, nè”. Jy maak of jy nie hoor nie. Geniet die oomblikke in totale ontkenning. En dan gebeur dit. Skielik. Sonder waarskuwing.

Iets kleins, iets simpels. Soos jy wat nie lus is vir seks as hy eerste ding in die oggend aan jou “aansitknoppies” kom draai nie. Dan staan jy gou op met die verskoning dat jy eers lus is vir koffie . Jy vat ekstra lank en gaan surf gou eers bietjie op die net en hoop hy kry die boodskap. Jy weet hoe hy gaan reaggeer as jy sê: “Nie nou nie” en jy hoop hierdie is meer subtiel.

Foutjie. Sy eer is gekrenk en jy sal dit ontgeld. Vir weke sê ons net die nodigste, bly uit mekaar se pad en kyk wie kan die hardegatste wees. En nou is die tye van vrede en vreugde ondenkbaar en die stemmetjie hoon kliphard: “Ek het jou mos gesê!”

Kan iemand dalk vir my sê hoe om vir ‘n man op die “regte”manier nee te sê? En kan ek ook net vir mans sê – veral die wat al lank getroud is en seks as vanselfsprekend aanvaar. Al is dit lekker as julle aan ons tieties vat – dis nie die knoppies wat ons breins aanswitch nie.



{Julie 24, 2007}   Perfeksionisme

Wat is ‘n ander woord vir ‘n perfeksionis? Doos. Vra my. Ek is getroud met een.

Nie dat ek nie lief is vir hom nie, maar hel, soms laaik ek hom net mooi niks. Daai ongenaakbare oë wat jou gedurig skrutiniseer net om te kyk wanneer jy ‘n fout gaan maak. Daai gedurige ongeduld en kritiek as jy die fout maak, want maak, die gaan jy, veral as jy soos ‘n valk dopgehou word.

Wat my die meeste verstom is hulle geloof in hul perfeksionisme. Hulle glo vas dat als wat hulle doen geoorloof en korrek is. Daarby is hulle meesters in blame shifting.

Gooi by die konkoksie iemand wat heeltyd skuldig voel en jy het ‘n wenresep. Veral vir die doos.

Soms kyk ek vir hom as hy langs my lê en slaap en dan dink ek, ag liewe vader, behoed my tog net vir die volgende twintig jaar. Dat ek nie die kussing vat en hom een aand in sy slaap versmoor nie!



{Julie 23, 2007}   Aangename kennis

Hallo. Noem my sommer Bitch. Bitch Botha. Ek is nie meer twintig nie, ek het al ‘n liposuction gehad en ek drink te veel wyn. En ek is knorrig – veral die laaste tyd. Miskien het dit iets met die hormone uit te waai.

Nee, dit help nie ek soek verskonings nie. Ek is prikkelbaar, verergerlik, gekwel, gepla, ontstem, verydel, verhinder,belet, gedwarsboom, gekeer, gefnuik, teleurgestel, gesteur en dalk effens versteurd. En ek gaan dit als op hierdie webblog uithaal. Elke liewe dingetjie.

Hier gaan ek skree, skree namens al my medegenote. Watch this space. Ek moet nou eers gaan kosmaak. Ek lyk seker soos ‘n koei, want die eerste ding wat uit my huismense se monde uitkom, as hulle my sien, is: “Mammie, wanneer eet ons?”



et cetera